§ Maak nie saak waar jy tans in jou lewe is nie — die Here is daar.
§ Maak nie saak hoe donker jou lewe op die oomblik is nie — die Here se lig skyn teen vol sterkte in die donkerste donker en in die helderste dag. § Maak nie saak hoe ver jy al geval het, of tans nog besig is om te val nie — die Here sal jou elke keer vang. Jy kan nooit ver genoeg val om uit sy hand te val nie. § Maak nie saak hoe kleingelowig jy is nie — die Here sal nooit opgee op jou nie. Hy bly getrou, al is jy ontrou. § Maak nie saak hoe ryk of arm jy is nie, God meet nooit jou waarde aan geld nie. Jy's te kosbaar dat God jou ooit deur sy vingers sal laat val. Jy dra die ewigheid nou reeds in jou binneste rond omdat Christus jou gekoop het. Die Heer se handtekening is oor jou lewe aangebring. Die kaart en transport van jou lewe is Syne. Jy behoort eksklusief aan God, vandag, môre, vir altyd! Dit alles net omdat jy bely dat Jesus die Here van jou ganse lewe is. Sê dit asseblief vandag van harte saam en leef! Asaf, die skrywer van Psalm 73, se geloof was op ‘n dag papierdun. Hoor net wat sê hy: “Ekself het verniet gedoen wat God sê. My gebede het niks gehelp nie. Dit was ‘n mors van tyd, want elke nuwe dag het ‘n vrag vol nuwe probleme op my gewag. Ek is elke dag soos ‘n vloerlap behandel.” (vers 13-14, DIE BOODSKAP)
Maar toe onthou Asaf skielik om sy pelgrimsklere aan te trek en na God se heiligdom toe te emigreer. As hy daar instap, ontdek hy ‘n ander prentjie: God is nog altyd op sy pos. ‘n Nuwe visie verander skielik sy hooplose lewe: God het nie sy hand gelos toe hy met sy eie stukkie opstand teen Hom besig was nie. Nee, dit was maar net hyself wat hom uit God se hand probeer loswurm het. Al wat nodig was, was die regte soort kyk. Om God te hoor, moet mens jou kyk verander! Asaf moes naamlik leer om die Onsienlike te sien. En om die Onhoorbare te hoor! Dis presies wat enige pelgrim op God se pad vandag nog in millennium drie moet doen. Gelowiges wat aanhou luister totdat hulle God in die geloof raakluister, hoor by Hom woorde van nuwe lewe. Hulle oë gaan dan oop vir hoop! Groete Stephan Joubert Iemand skryf: “There is no use walking anywhere to preach, if your walking is not preaching.” Ware woorde. Dis maklik om vir ander te sê hoe hulle moet leef, of om gedurig fout te vind met mense se optrede rondom ons. Tog het ons almal kleivoete. Wag laat ek net namens myself praat. Onlangs, toe iemand my herinner dat ek iewers iets geskryf het oor beheer van ons tong en dat dit vir haar lyk of ek in ‘n sekere situasie te maklik gepraat het, toe proe ek net daar my eie klei-tong. Toe weet ek dat dit makliker is om te preek as om my eie preekroete daagliks te loop.
Daar’s goeie nuus egter, en dit is dat ons almal wat aan die Here behoort steeds onder konstruksie is. Ons is lewenslange beeldhouwerke in die hande van die hemelse Beeldhouer. Ons is onder permanente konstruksie van die Heilige Gees. Hy is die Meesterbouer vanuit die hemel. Hy omskep menslike bouvalle in lewende tempels ter ere van God. Soms speel ons wel eienaarbouer en dan is dit chaos. Maar gelukkig begin God daagliks voor met ons. Dit gee my moed om elke dag aan te hou met loop ‘n Seuntjie vra vir ‘n vriend van my: “Watse soort werk doen oom?” “Ek is ‘n leraar,” antwoord hy. Dadelik reageer die outjie: “Dan is oom mos een van Jesus se beste vriende.” Toe onthou ek ‘n verhaaltjie uit my hoërskooldae waar ons een middag minderbevoorregte kinders by ons kerk bederf het met eetgoed en koeldrank. Een van die kindertjies het na ‘n rukkie na oom Con, wat ons kom help het, gestap en gevra: “Is oom dalk Jesus?” Ons het geweet dis nie ‘n ligsinnige vraag nie. Oom Con was ‘n man van die Here; soveel so dat selfs ‘n klein kindjie wat verstandelik gestremd was dit kon aanvoel.
Dis een ding om vir almal te vertel ons Christene, maar dis iets heeltemal anders as mense dit uit hulle eie raaksien. Iemand wat ek ken sê juis: “Moenie vir mense sê jy is ‘n Christen nie, laat hulle dit vir jou sê, en laat hulle dit oor jou sê in jou afwesigheid!” In Handelinge lees ek dat die eerste Christene van vroeg af bekend gestaan het as mense van die Weg; “People of the Way.” Hulle was op die pad en ook oppad agter Jesus aan in die alledaagse lewe. Nee, hulle was nie bekend as kerkmense wat gedurig van een kerklike aktiwiteit na ‘n ander rondgery het nie. Of as godsdienstiges wat almal afgeskryf het wat nie presies soos hulle geleef het nie. Hulle liefde vir Christus het gewys in hulle loop! Hulle geloof was sigbaar, voelbaar en navolgbaar! So wil ek ook leef. Ek wil graag een van Jesus se beste vriende wees! Groete Stephan Joubert Spreuke 27:6 sê: “Op ‘n vriend wat jou seermaak kan jy reken.” Die tweede gedeelte van hierdie vers gaan voort om te sê: “Iemand wat jou haat, is oordadig met sy soene.” Nee, hierdie vers beteken nie outomaties dat elkeen wat ander mense met ‘n soen groet vals is, of dat elke seermaker betroubaar is nie. Onthou, Spreuke werk met algemene lewenslesse oor God se wysheid wat die lewens van wyses en dwase kenmerk. Tog leer ek dat ‘n goeie vriend die moed het om daardie dinge vir jou te sê wat jy nodig het om te hoor, al maak dit seer. Sulke vriende is skaars. Ek weet nie of jy sulke vriende in jou lewe het nie. Miskien beskou jy hulle nie aldag as ‘n seën nie, omdat hulle eerlikheid jou soms kwaad maak. Glo my, hulle is goud werd. Hulle is God se lewende geskenke aan jou. Om net mense in jou lewe te hê wat jou heeltyd vlei, is om toe te laat dat blinde kolle in jou lewe wen. Dan gaan jy nooit leer om slegte gewoontes of sondes in jou lewe in die oë te kyk en uit te roei nie.
Groete Stephan Joubert So word ek (al hoe meer) myself Ben Fold sing iewers: “I do the best imitation of myself.” Ware woorde. Solank as wat ek iemand anders se gesig probeer plak bo-oor my eie, is ek oneg. Solank as wat ek iemand anders probeer wees, is ek steeds net die tweede beste hy of sy. Daar is net een van my soort op aarde, en dit is ekself. Die Here het my uniek gemaak, van my tone tot by my kop, en van buite tot binne. Ek is die resultaat van ‘n Goddelike beplanning-sessie, soos wat Psalm 139 vertel. Tog is dit my eie verantwoordelikheid om op ‘n unieke manier God se aardse weerkaatser te wees. Met daardie spesiale paar talente en gawes wat die Here in my gedeponeer het, moet ek sy glans en lig weerkaats tydens my stukkie tyd hier op aarde. Dit is nou my tyd om te skyn!
Ten einde teen volsterkte te skyn vir die Here moet ek myself in nuwe maniere van dink inleef en nie andersom nie. Dit is goed om te dink. Nee, dit is noodsaaklik. Maar as my helde slegs die groot denkers van ons tyd is, dan is ek in die moeilikheid. Denkers verander nie aldag die wêreld nie; die regte soort doeners wel. Aksie troef alles. Sonder aksie is ek gedoem tot oorbeplanning en baie praatjies. Klein treë in die regte rigting; stil dade van omgee; aanhoudende gebede — dit is die regte soort dade wat ek dag na dag moet herhaal. Denke wat uitloop in gedrag wat God verheerlik en ander mense seën is die sleutel tot daardie ek wat die Here my bedoel het om te wees. Mense is gode-makers – afgode-makers, bedoel ek. Jeremia 10 en Jesaja 44 vertel presies hoe hulle dit doen. Daar lees ons naamlik hoe mense vir hulleself afgode uit hout of klip kap en dan voor hulle eie handewerke neerbuig en smeek dat dié hulle moet red. Ook in ons dag is die afgod-bedryf so gewild as wat kan kom. Baie mense se idee van hoe God werk en wat Hy doen of sê berus glad nie op sy eie bekendmaking van Homself in die Woord nie, maar op subjektiewe idees of hoorsê. C. S. Lewis sê baie mense se idee van God is ‘n oupa-figuur in die hemel wat in ons diens is om lekker dinge vir ons te gee en dan uit ons pad te staan.
Die enigste manier om uit ons gode-fabriek te ontsnap, is om in God se Boek self te gaan ronddelf. Ons moet die Here daar op sy eie terme ontmoet. Nee, ek bedoel nie ‘n Bybelteks hier, of ‘n paar verse daar nie; ons moet die Bybel behoorlik oordink en ondersoek. Dan hoor ons al hoe duideliker wie God is en wat Hy doen. Nog beter, dan vind God vir ons op sy genadeterme. Ons leef in ’n wêreld wat ons toegooi met derduisende keuses. Skakel jy die TV aan, is daar ’n massa kanale om van te kies. Tussendeur maak die internet en alles wat die wêreld in jou keel afdruk jou daaglikse keuses niks makliker nie. Hoe weet jy wat is reg en wat is verkeerd? En hoe maak jy steeds goeie keuses tussen al die moontlikhede waaraan jy blootgestel is? Wel, jy benodig ’n paar eenvoudige beginsels vir jou lewe uit God se Woord. Ek praat van ’n beslissende kernwaarheid soos dié in Kolossense 3 dat God se eer altyd voorop staan. Of dat jy as volgeling van Jesus geroep is om ander mense te dien, soos wat Hy in Markus 10:42-45 sê. Vir Jesus is klein immers die nuwe groot, en agter die nuwe voor. Om nie eens van swak as die nuwe sterk te praat nie. Gebruik elke keer hierdie eenvoudige waarhede as padaanwysers as jy keuses moet maak. ’n Eenvoudige, maar lewenveranderende waardestelsel uit die Bybel vereenvoudig jou keuses en jou daaglikse manier van leef. O ja, nog een vraag: het jyself ’n duidelike Bybelse waardestelsel in plek in jou lewe wat as jou kompas dien?
In 2 Konings 5 lees ons van Naäman, die hoof van die Arameërs se weermag, wat melaats geword het. Later is hy genees deur die toedoen van Elisa, die man van God. Tog was die eerste belangrike skakel tot sy genesing ’n dogtertjie uit Israel. Op ’n strooptog is hierdie kindjie ontvoer. Sy het toe in Naäman se vrou se diens beland.
Toe hierdie dogtertjie hoor van Naäman se siekte, het sy vir me. Naäman gesê: “Sê vir die generaal hy moet Samaria toe gaan. Daar’s die man van God wat hom sal genees.” Net dit! Nee, sy het nie vir Naäman gepreek nie... Of ’n lang getuienis oor haar geloof afgesteek nie. Sy was ’n kortpad-padwyser na God toe. Toe haar Goddelike oomblik onverwags daar in die kombuis aanbreek om ’n verskil in iemand se lewe te maak, was hierdie paar woorde oorgenoeg! Wat verander doodgewone oomblikke in Goddelike momente? Wat maak dat ’n generaal ’n kinderslaaf uit ’n vyandige volk ernstig opvat? Wel, haar lewe het in HOOFLETTERS getuig sy loop op die Here se pad. Ver van haar ouerhuis af het hierdie naamlose kind styf aan God vasgehou. Al was haar lewenskeuses op daardie harde kombuisvloere min, het sy haar slawewerk vir die Here gedoen. Dit het elke vloerwas-dag verander in God se spesiale moment. G’n wonder nie dat Naäman na haar geluister het. Twee goeie sinnetjies op die regte Goddelike oomblik het haar vir altyd op die bladsye van die Bybel ingeskryf. Nadat Naäman genees is, het hy bely daar’s geen ander God nie behalwe die God van Israel (2 Kon 5:15). Sy lewe het verander, asook sy eie mense s’n. Hulle het gesien wat God in hulle generaal se lewe kan doen! Die wederkoms sal uitwys hoedat ons elke Goddelike moment aangegryp het... of deur ons vingers laat val het! Nie eens skottelgoed-was of werk-toe-ry is sinnelose oomblikke as ons voltyds aan diens vir Christus is nie. Die enigste rede hoekom daar iets soos tyd is, is sodat alles nie tegelyk gebeur nie. Albert Einstein het hierdie groot wysheid kwytgeraak. Tyd is ’n wonderlike ding. Tyd genees wonde. Tyd laat ons vergeet van gister se seerkry. Tyd werk soos medisyne. Maar ons het nie elke slag tyd nodig om oor iets te kom nie. As dit sou waar wees, dan moet ons maar net op ’n hopie gaan sit en die dae omkry totdat ons beter voel. Maar dit werk nie heeltemal so nie.
Ons moet die tyd uitkoop en die beste maak van elke geleentheid wat ons het. “Vandag is die dag van redding” sê Paulus in 2 Korintiërs 6:2. Nee, nie môre of oormôre nie. God sê: “Vandag as julle sy stem hoor, dan moet julle nie julle harte verhard nie” (Hebrëers 3:7-8). Vandag is presies die regte dag op God se kalender. Dis die enigste tyd wat tans beskikbaar is om sy wil te doen. Moet nie uitstel tot môre wat jy vandag vir die Here kan en moet doen nie. Jy het vandag net mooi genoeg tyd om vir Hom te leef. Gebruik dit met wysheid. |
Ana & Andre Schoonbee God uses us to motivate and encourage the body. Authors
All
Archives
June 2015
|